Ongelukkig in jou huwelik?
Iewers het iets groot verkeerd geloop… Jy weet nie waar nie, of miskien weet jy presies waar dit gebeur het, maar jou huwelik is nie wat jy wil hê dit moet wees nie. Daar is stilswye of ’n voortdurende konfliksituasie tussen jou en jou maat wat oneindige spanning en ongelukkigheid meebring.
Moet ek skei?
Jy weet nie meer watter kant toe nie en egskeiding lyk vir jou na die enigste oplossing. Dink weer… Egskeiding is radikaal; dit is meer as net jy en jou maat wat daardeur geraak word — daar is ’n klomp mense by julle betrokke wat dit raak. Maar dit raak kinders die meeste.
Dit het ’n ontwrigtende invloed op die kinders en tas onder andere hulle selfbeeld aan. Ander uitvloeisels wat baie keer teruggevoer kan word na egskeiding is opstandigheid, depressie, jeugmisdaad, jeugselfmoord, tienerswangerskappe en buite-egtelike verhoudings. As jy enigsins kan, moenie dit aan jou kinders doen nie.
Wat moet ek doen?
Jy is dit aan jouself verskuldig om te kom vir terapie. In huweliksberading gaan dit nie daaroor om ’n konflikvrye verhouding en ’n probleemlose huwelik daar te stel nie. Dit gaan oor die vraag: Hoe kan ons die bestaande probleme op ’n konstruktiewe wyse hanteer? Hoe kan ons van die huwelikskrisis ’n geleentheid maak tot verdieping en groei?
Dit is om konflik te sien, nie net as ’n aftakeling van mekaar en om al meer verwyderd van mekaar te wees nie, maar as deel van ’n groeiproses na liefdevolle intimiteit. Berading gaan nie net oor probleemhantering nie, maar ook die avontuur waar huweliksmaats mekaar weer opnuut ontdek.
Kan ek alleen kom?
Verhoudingsprobleme is nooit net een party se skuld nie. Maar as jou maat nie wil saamkom nie, kan dit nog steeds voordelig wees as jy alleen kom. Jy kan jou gedrag beter verstaan en leer hoe om sekere situasies beter te hanteer.
Laat egskeiding jou laaste opsie wees. Jy kan nie skei voor jy nie eers probeer het om die huwelik te red nie. Moenie een van die statistieke word nie. Daar is altyd hoop op herstel. Elke huwelik het die potensiaal om anders en beter te word.