Wie is Dr. Gretha Heymans?
Dr. Gretha Heymans was jare lank ’n leraar in ’n NG Kerk (en is op 20 Maart 1994 bevestig as die eerste vroue-predikant in die NG Kerk). Sy is tans deeltyds leraar in die NG Kerk en voltyds pastorale terapeut. As gevolg van jare in die bediening het sy ryk ervaring van pastorale berading en terapie en is sy ’n kundige en ervare berader.
Sy beskik oor verskeie grade in Teologie asook ’n meesters- en doktorsgraad in Pastorale Terapie: B.A. (UOVS), B.Th (UOVS), NDT (UOVS), M.Th (UOVS), Ph.D (UOVS).
Jy kan verseker wees sy bied jou ’n omgewing van sekuriteit, sorg en deernis en is gemotiveerd om jou moeilikhede vanuit ’n ander hoek te sien en strategieë voor te stel vir vorentoe beweeg, hoe om jou volle potensiaal te ontwikkel en ’n meer vervulde mens te wees.
“Ek wil graag hê dat jy die beste lewe moet kan leef as wat jy kan. Daarom is my uitgangspunt: ‘Ek het gekom dat julle die lewe kan hê en dit in oorvloed’ (Joh. 10:10). Christus het gekom sodat jy ’n oorvloedige lewe kan hê en daarmee wil ek jou help. Jy hoef met niks minder as dit tevrede te wees nie.”
Wanneer het jy terapie nodig?
Voel jy vasgevang, oorweldig, verlore in jou omstandighede? Is jy onseker en weet nie waarheen jou lewe op pad is nie? Het die lewe sy sin verloor? Jy weet nie hoe om van die oorweldigende gevoel ontslae te raak of weer passievol die lewe te leef nie. ’n Pastorale Terapeut kan help. Al hoe meer mense besoek pastorale beraders om hulself beter te verstaan, om hulself te “ontdek”, te groei en om nie “slagoffers” te wees wat die heeltyd oor hulle probleme kla en broei nie. Jou probleme hoef jou nie te beheer nie. Jy kan beheer neem oor jou probleme.
Jy redeneer dalk: “Ek het nie terapie nodig nie, ek bespreek my probleme sommer met my vriende of vriendinne.” Onthou vriende luister nie objektief na jou nie. ’n Kundige buitestander is nodig om objektief na jou te luister en kan jou help om nuwe perspektief te kry op jou lewe. Jy gaan heel moontlik ook nie gemaklik voel om jou diepste emosies met ’n vriend te deel nie.
Enige iemand kan baat by berading selfs al is jy net verward of hartseer. Jy is juis nie ’n swakkeling as jy bereid is om pynvolle ervarings, emosies of herinneringe te deel en ook soms jou gedrag te verander en heel te word nie.
Jy sal weet of die tyd ryp is om ’n afspraak te maak. Luister na jouself en kyk na jou gedrag. Enige groot aanpassing of traumatiese gebeurtenis kan jou balans versteur. Dit is nie maklik om te erken as jy hulp nodig het en om daardie stap te neem nie, maar die feit dat jy op hierdie webblad is, is reeds ’n eerste stap. Kry eerder te vroeg hulp as te laat.
Wat kan jy verwag?
’n Terapeut gee nie net raad nie, maar begelei jou om tot self-insig te kom deur die “regte” vrae te vra. Hieruit kom jou eie raad en oplossings. Die verloop van sessies hang af van die probleem en jou behoeftes.
- Visualisasie Terapie: ’n Metode waar die persoon deur middel van visualisasie gekonfronteer word met gevoelens wat hy/sy tydens ’n sekere gebeurtenis belewe het, en ou negatiewe prentjies met nuwe positiewe prentjies vervang. Buiten traumatiese gebeurtenisse word dit ook effektief gebruik vir motivering bv. vir studies, gewigsverlies en doelwitbereiking.
- Pastorale Narratiewe Metode: ’n Persoon se eie lewenstorie word weer direk of indirek in verband gebring met God se Groot Storie vir sy/haar lewe.
- Geneagramme: Daar word in diepte na ’n persoon se familiegeskiedenis en gesin van oorsprong gekyk.
- Rasioneel-Emotiewe Terapie: Daar word gekyk na bepaalde denkprosesse wat die emosies bepaal wat ervaar word op ’n spesifieke gebeurtenis, en hoe die denkproses verander kan word.
- Praktiese Toerusting: Na elke sessie word vrae en huiswerk geïdentifiseer waaroor kliënte nadink en terugvoer gee sodat positiewe veranderinge gevestig word.